Afrikaans by die UV

Die ANC se aanslag op Afrikaans duur nou al 21 jaar. Dit het in 1994 begin met ’n drastiese inkorting van Afrikaans oor die SAUK-TV en die verandering van die taalbeleid van sommige Gautengse Afrikaanse skole. Stap vir stap het Engels prakties die enigste amptelike taal geword. In die afgelope paar maande is die optrede teen Afrikaans in die onderwys verskerp.

Vier persone staan aan die spits van die veldtog. Hulle is dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en leiers van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, prof Dan Kgwadi, vise-kanselier van die Noordwes-Universiteit en prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat.

Van “Nzimande & Kie” sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit-beweging (SB), dat hulle nie soseer minder Afrikaans op kampusse wil hoor nie, “hulle wil minder Afrikaners sien. Die teiken is ras, die slagoffer is Afrikaans.”

Nzimande beweer hy is nie teen Afrikaans nie, maar verlede jaar het hy woedend gedreig dat hy die SB se private universiteit Akademia gaan sluit as dit net in Afrikaans klasse sou aanbied. Die voorwendsel is dat Afrikaans gebruik word om swart mense uit te sluit. Dit is onwaar, en van die dreigement het niks gekom nie.

Lesufi het aangekondig dat 66 Afrikaansmediumskole in Gauteng verplig gaan word om na parallelmedium oor te skakel. Daaronder is beroemde skole soos Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria.

Prof Kgwadi is vol lof vir Afrikaans, en sê daar is niks vir die taal te vrees nie, maar die veranderings wat hy voorstaan, gaan die taal onvermydelik benadeel.

Prof. Jansen is op 15 Mei in prof. Hennie van Coller se skitterende Volksblad-artikel aan die kaak gestel. Met onweerlegbare bewyse toon hy aan hoe Jansen Engels aan dié universiteit “met ’n ysterhand” bevorder het. Dít, terwyl ’n mens van die hoof van ’n parallelmedium-inrigting eweveel respek vir die twee tale verwag…

Jansen besef nie dat hy onherstelbare skade aanrig aan iets wat baie groter is as hy self nie.

Sy houding oor parallelmedium het in sy D.F. Malherbe-gedenklesing van 2010 deurgeskemer. Hy het laat blyk dat hy dubbelmedium voorstaan. Dit sou egter in ons situasie op verengelsing uitloop.

Volksblad het hom op 14 Augustus 2010 as volg gerapporteer: “Dubbelmediumklasse sal die rasse-isolasie afbreek waar uitstaande universiteitsdosente gemaklik in albei tale is. Parallelmediumklasse sal aangebied word waar groot getalle sodanige instelling moontlik maak”.

Ek het in Volksblad die afleiding gemaak dat Jansen die taalbeleid verander het. ’n Woordvoerder van die universiteit het dit heftig ontken en gesê: “Die UV is ’n parallelmedium-instelling en sal so bly.” Sy het verwys na ’n berig dat die aantal Afrikaanse UV-studente tussen 1997 en 2008 toegeneem het. “Waarom sal die UV dan ’n ‘ingrypende verandering’ aan sy taalbeleid maak?”

Luidens Jansen se onlangse bulletin het die studente se voorstelle gewissel van onderrig slegs in Engels tot onderrig in Engels tesame met simultaan-tolking na Afrikaans en Sesotho.

Dus: Afrikaans word eers geduld, daarna mag mens dit fluister, en daarna word Afrikaanse stemme stilgemaak. Dis hoe transformasie werk.

Watter rol speel anti-wit rassisme in hierdie saak? Die anti-wit en anti-Joodse uitsprake van swart studente trek selfs die aandag van buitelandse publikasies, soos Elsevier, wat ’n artikel daaraan wy.

Wat kan Afrikaanssprekendes nog doen om Afrikaans aan die UV en elders te behou? Die verloop van taalstryde hier en elders leer dat ons dit kan doen deur selfstandige instellings op te rig en taalaktivisme te beoefen. Dit gebeur reeds.

Die eerste selfstandige Afrikaanse instellings is waarskynlik die CVO-skole (CVO staan vir Christelike volkseie onderwys).

Dit is egter veral die SB wat hiermee uitblink. Die agtergrond van een van hierdie instellings kom na vore in Flip Buys se onlangse onderhoud met Hanlie Retief van Rapport. Hy sê die staat se beleid van rasseteikens beperk toegang. “In die praktyk kry wit Afrikaanse kinders vandag bitter moeilik toelating by tegniese kolleges of universiteite vir tegnologie. Statistieke wys van 2000 tot 2010 het die aantal wit kinders by dié instellings van 70% tot 5% gedaal.”

Aangesien tegniese onderwys totaal verengels het, het Solidariteit Sol-Tech gestig wat tegniese onderrig in Afrikaans aanbied.

Nog ’n instelling is Akademia, wat van die jongste tegnologie gebruik. Só is Akademia waarskynlik beter toegerus as ander universiteite vir die krisis wat volgens Koos Bekker, nie-uitvoerende hoof van Naspers, op hulle wag.

Maar die oprigting van sulke instellings kos tyd en geld, en bowendien is die Afrikaanssprekendes ’n belangrike groep van die belastingbetalers.

Dus is taalaktivisme nodig. Dit sluit volgens ’n kenner van taalbeplanning, prof. Theodorus du Plessis, aksies in soos litigasie, vorming van drukgroepe, die mobilisering van die gemeenskap en selfs geweld. Op laasgenoemde na het al die vorme van aktivisme die afgelope 21 jaar voorgekom.

In twee opsigte het Afrikaans ’n probleem. In in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe noem prof. Hermann Giliomee die inskiklike universiteitsrade en die swygsame Afrikaanse koerante. Hy sê daar ontstaan ’n kloof tussen die redakteurs en die Afrikanergemeenskap.

Gelukkig geld dit nie vir Volksblad nie, want dié koerant neem standpunt in vir Afrikaans.

Dit raak tyd dat oudstudente en donateurs begin druk uitoefen op die universiteit. By die Noordwes-Universiteit bestaan reeds drukgroepe, en sowel daar as by die UV is die saak nog nie afgehandel nie. Dit gaan ’n ewige klad op die UV en sy huidige bestuur en raad wees as hy Afrikaans hier tot niet maak.

Jaap Steyn was professor in Afrikaans en Nederlands aan die UV en is die skrywer van ‘Ons gaan ’n taal maak’.