Die groei van Afrikaans sedert 1910 tot ’n volwaardige taal

Hierdie lesing is wesenlik dieselfde as dié wat die skrywer op 31 Mei 2010 gelewer het by die Unie-eeufees gereël deur die Pretoriase Werkgemeenskap van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Opsomming:

Die groei van Afrikaans sedert 1910 tot ’n volwaardige taal word kortliks bekyk aan die hand van vier aspekte of sienings van Afrikaans wat as emotiewe hoofpunte aangebied word, naamlik die wonder van Afrikaans, die triomf van Afrikaans, die sieraad van Afrikaans en die tragedie van Afrikaans. Die aanloop tot Uniewording en die taalartikel (artikel 137) van die Zuid-Afrika Wet, 1909, word in enkele penstrepe geskets en die ontwikkeling van terminologie en die letterkunde in Afrikaans word kortliks aangeroer. Ten slotte word, aan die hand van uitsprake uit die jare voor en ten tyde van Uniewording, aangevoer dat ’n volk sonder ’n taal nie moontlik is nie en word ’n beroep op Afrikaanssprekendes gedoen om hulle opnuut te beywer vir die behoud van Standaardafrikaans in die openbare en die private domein.

Ek is geen akademikus nie en u moet dus geen akademiese uiteensetting van die groei van Afrikaans die afgelope 100 jaar, of trouens enige akademiese referaat, verwag nie. So iets sou bowendien gevaar loop om ’n vervelige rits datums en feite te word. Ek gaan dus probeer om die saak effens anders aan te pak, en ek hoop dat ek vandag ’n vuurhoutjie kan trek wat weer ons mense oor die hele land sal aanvuur.

Ek gaan net hier en daar enkele hoogtepunte in die groei van Afrikaans aanroer, en wel aan die hand van vier slagspreukagtige aspekte van die geskiedenis van Afrikaans.

Die eerste aspek is wat PJ Nienaber genoem het –

 

I          DIE WONDER VAN AFRIKAANS

I.1       Die eerste wonder is die ontstaanswonder van Afrikaans. In 1902 was die ABO verby en die Hollands-Afrikaanse Boererepublieke op hulle knieë. Daardie aartsimperialis lord Milner het hoë ideale vir verengelsing gekoester.

            “In die hele geskiedenis,” sê PJ Nienaber egter, “is daar nie nog ’n geval bekend waar ’n Germaanse taal langs gewone weë so radikaal en in so ’n kort spanne tyds tot ’n selfstandige taal verander het nie”.[1]

Prof. Pieter Kapp, historikus en skrywer van o.m. Draer van ’n droom (Hemel & See Boeke: 2009), skryf uitvoerig oor watter faktore ’n deurslaggewende rol by die ontwikkeling en groei van Afrikaans gespeel het, en die belangrike daarvan is dat die “gewone weë” waarvan Nienaber praat, beslis nie net te doen het met die politieke mag van die Afrikaner nie. [2]

I.2       Die tweede wonder van Afrikaans is sy “snelle verheffing” van kombuistaal tot kultuurtaal – dit wil sê ook akademiese en wetenskapstaal.

            Dié verheffing was skouspelagtig, sê Nienaber, want binne ’n kwarteeu het Afrikaans hom gevestig.[3] Dié vestiging het nie net in die aangesig van die magtige Engels geskied nie, maar ook van Nederlands, wat in die vroeë jare ’n sterk aanhang onder Afrikaners gehad het.[4]

            1914 – Afrikaans word as skooltaal erken.

            1916 – Afrikaans word as kerktaal erken.

1918 – Afrikaans word as universiteitstaal erken.

1925 – Afrikaans word as amptelike taal erken.

I.3       Die derde wonder is die groei en bloei van Afrikaans. Sedert Eugène Marais se “Winternag” in 1905 gepubliseer is, het die Afrikaanse letterkunde in alle opsigte gegroei tot ’n letterkunde wat ’n volledig ontwikkelde kultuurtaal waardig is, een wat in alle opsigte by die wêreldletterkundes kan kers vashou.

            Dit is egter nie net op die literêre terrein wat Afrikaans gegroei het nie, maar ook in alle opsigte wat vir ’n akademiese en wetenskapstaal nodig is, met inbegrip van die terrein van die vertaalkunde – Bybelvertaling was ʼn hoë prioriteit – en terminologieontwikkeling.

            Vir baie mense was die verskyning van die Bybel in Afrikaans in 1933 ’n hoogtepunt. EC Pienaar noem dit “die hoogste triomf”![5] (En laat ons nie vergeet dat die Qur’aan ook in Afrikaans bestaan nie. Die belangrike rol wat die bruin en Maleiergemeenskappe van veral die Kaap in die ontwikkeling van Afrikaans gespeel het, is straks te lank die afgelope 100 jaar onderspeel. Die oudste werklik Afrikaanse geskrifte is immers in die Arabiese skrif geskryf!)

            Daarna, van 1934 tot 1944, het die Afrikaanse berymings van die Psalms en Gesange die lig gesien.[6]

Hoekom is dit alles ter sake by hierdie herdenking van Uniewording? Een van die grootste rolspelers in die totstandkoming van die Unie, genl. JBM Hertzog, word deur Nienaber ook as een van die grootste taalhelde van die Afrikaner beskou, o.m. omdat hy reeds by die Vrede van Vereeniging daarop aangedring het dat die regte van Hollands erken moes word. Sy groot bydrae in dié opsig was egter ook artikel 137 van die Zuid-Afrika Wet, waardeur die gelykheid van die twee tale een van die hoekstene van die Unie van Suid-Afrika geword het.[7] Die belang van hierdie artikel lê nie net in die blote erkenning van Afrikaans-Hollands naas Engels as amptelike tale nie, maar juis daarin dat dit – op aandrang van Hertzog en daardie ander reus in die geskiedenis van Afrikaans en die Afrikaner, pres. MT Steyn – so bewoord is dat die grondwetlike erkenning in die staatspraktyk neerslag moes vind.[8]

Die tweede beskouing van Afrikaans wat ek wil aanroer, is wat EC Pienaar genoem het –

 

II         DIE TRIOMF VAN AFRIKAANS

Die triomf van Afrikaans is natuurlik ten nouste verbonde aan die wonder van Afrikaans, maar vir my lê die grootste triomf van Afrikaans daarin dat Afrikaanssprekendes, nadat hul “Hollandse taal” in die Zuid-Afrika Wet verskans is, nie agteroor gaan sit het nie, maar werk gemaak het van die wetlik verskanste taalregte en ‑voorregte. Kapp skryf dit toe aan die “vrywillige, spontane en energieke toewyding van ’n wye spektrum mense aan die ontwikkeling van ’n taal” en sê “dit is opmerklik dat terwyl politieke mag en invloed ’n belangrike rol gespeel het om hierdie ontwikkelinge moontlik te maak, dit nie die inisiërende faktor vir die sukses was nie”.[9]

Reeds voor Uniewording, in 1908, het dr. DF Malan van Afrikaans-Hollands gesê dit ís ons erns. In 1909 is die Akademie gestig met die uitdruklike oogmerk van o.m. “de handhaving en bevordering van de Hollandse Taal en Letteren”, en “onder ’t woord Hollands word verstaan: de beide taalvormen gebruikelik in Zuid-Afrika”.[10]

Dus, ondanks die feit dat Langenhoven in 1893 nog gesê het “Africander Dutch offers no hope, for it has no literature and a very poor vocabulary”, kon hy in 1914, skaars vier jaar ná Uniewording, ’n heeltemal ander deuntjie sing toe Afrikaans in Kaapse skole erken is:

            “Hier, vandag en gister, in ons eie leeftyd, onder ons oë, het die wonder-omwenteling van die goue periode van ons geskiedenis tot stand gekom. … Ek kan nie anders nie as om te voel dat dit my persoonlik allerminste sou pas om te praat van wat ek vir Afrikaans gedoen het. Wat my pas, is om te streef na die verskuldigde besef van wat Afrikaans vir my gedoen het.”[11]

En dit is iets waaroor ons almal – ek, u, alle Afrikaanssprekendes – baie goed moet nadink: Wat het Afrikaans vir ons gedoen? Wat en waar sou ons gewees het sonder Afrikaans?

Ook in 1914 verskyn daar by Grocott & Sherry in Grahamstad The Official’s Handbook of Translations: A manual of legal and other official terms in English and Dutch for use of civil servants, legal practitioners and others deur CFJ du Toit. Dit bevat terme en uitdrukkings ingedeel onder hofies soos algemeen, spoorwegterme, posterme, posspaarbankterme, geldwisselterme, telegraaf- en telefoonterme en bouterme. Hier word dus reeds praktiese stappe gedoen om die toepassing van artikel 137 van die Zuid-Afrika Wet te verwesenlik.

In 1915 keur die Akademie die eerste Afrikaanse spelreëls goed en in 1917 verskyn die eerste Afrikaanse woordelys en spelreëls, waarvan reeds die tiende uitgawe verlede jaar verskyn het.

En daarna was daar geen keer nie! Een van die oudste vakwoordeboeke wat ek in my besit het, is die Vakwoordeboek/Scientific and Technical Dictionary “deur dr. DF du Toit Malherbe, professor in Chemie aan die Universiteit van Pretoria, lid van die Nederlandsche Chemische Vereeniging, van die SA Vereniging vir die Bevordering van die Wetenskap, die SA Akademie vir Taal, Lettere en Kuns, ens., met medewerking van vyf-en-twintig Vakgeleerdes”, in 1932 uitgegee in Pretoria en Kaapstad.[12]

Dink maar aan die triomfantlike groei van ons letterkunde: Om lukraak ’n klompie bekende name te noem, dink maar aan die Eugène Marais’s, die Jan FE Celliers’s, die Totiusse, die Langenhovens, deur die Toon van den Heevers en die ID du Plessis’s, en die Oppermans en Van Wyk Louws, die Etienne Lerouxs, en die Adam Smalls en die SV Petersens en die Elizabeth Eyberse, die MER’s, die Elize Mullers, die Henriette Grovés, die Hennie Aucamps en die Braam de Vriese, die PG du Plessis’s en noem maar op, en moenie die TO Honiballs, en die Jan Spiese vergeet nie.

Die Unie-baba was dus skaars gebore, of Afrikaans begin die triomftog van sy ontwikkeling. Dit bring my by die derde aspek van Afrikaans wat ek wil noem, naamlik –

 

III       DIE SIERAAD VAN AFRIKAANS

Vir my as taalpraktisyn en as lid van die Taalkommissie, waar ons ons bemoei met Afrikaanse woorde en die spelling daarvan, is die grootste sieraad van Afrikaans die merkwaardige klomp woordeboeke en vakwoordeboeke (80+ verskillende vakgebiede/dissiplines) op my rak.

Die ontwikkeling van die Afrikaanse woordeskat en terminologieskat was niks minder as merkwaardig nie. Daar is nie ’n terrein van ons volkslewe waarop Afrikaans nie terminologie en woordeskat ontwikkel het nie. In Afrikaans kan ons harte oorplant en MIV/vigs bespreek, kan ons kernbomme bou en duikbote navigeer, kan ons oorlog voer en wol produseer en bemark, kan ons sake doen en die ekonomie probeer verstaan en paaie bou, kan ons ons geologie beskryf en mynbou beoefen, kan ons motors herstel en sterre kyk, kan ons die veeartsenykunde bedryf en chemiese konsepte benoem, kan huishoudkunde beoefen en staal vervaardig, kan ons die kuberruim betree en ons merkwaardige plantegroei beskryf, kan ons saampraat in die filosofie en die godgeleerdheid, kan ons finansiële markte en die fisika en die sielkunde onder woorde bring.

Het u byvoorbeeld geweet dat daar reeds in 1982 ’n lys sokkerterme in Afrikaans en Engels uitgegee is (en nie nou met die Sokkerwêreldbeker eers nie), en reeds in 1950 ’n Voorlopige Woordelys in Landbou en Bosbou? ’n Merkwaardige woordeboekie is die kleine The Chubb Technical Dictionary (English-Afrikaans, Afrikaans-English), waarin die besturende direkteur van Chubb & Son’s Lock & Safe Company (SA) die verstommende opmerking maak dat hy hoop dat deur die woordeboekie “we have been able to play some small part in the development of the technical branch of the Afrikaans language”.[13]

Nog een van die kleinode op my rak is die oudste taalhandleiding wat ek besit: ’n klein boekie getiteld Taalgoggas in die Daelikse Lewe deur Twee Oud-onderwysers. Hierin word lesers nie net attent gemaak op “Engelse goggas” soos Engelse woorde oorgeneem, klakkelose vertalings, en Engelse sinsbou nie (hoe nodig het ons dit nie vandag nie!), maar ook “Afrikaanse goggas”, soos verkeerde woorde, verkeerde sinsbou en verkeerde beeldspraak.[14]

En dan is daar natuurlik die groot juweel in Afrikaans se kroon, die grootste monument wat ooit vir en in Afrikaans opgerig is, naamlik die steeds wordende en groeiende WAT. Dié omvattende woordeboek, waarvan deel R pas verskyn het, kan hom handhaaf in die geselskap van ander groot woordeboeke, soos die OED en die WNT. Wat ’n wonderlike stuk werk word daar nie gedoen nie!

Maar laat ek u nie verveel met goed wat my opgewonde maak nie. Ek kan en wil my hoegenaamd nie as ’n letterkundige uitspreek nie; tog wil ek net paar Afrikaanse letterkundige juwele wat my deur die jare bygebly het, met u deel.

Want in watter taal kan ’n mens die Heilige Maagd ’n “nooi uit Nasaret” noem?[15] Of die Kersverhaal in ons eie leefwêreld plaas met “Drie outas het in die haai Karoo / die ster gesien en die engel geglo …/ en daar tussen die esels en makriel / die krip gesien en neergekniel. / Die skaapvet, eiers en biltong / nederig gelê voor God se klong”?[16]

Of waar anders kan jy die volmaakte stilte – fisies en geestelik – beter met klanke en woorde raakvat as “Hoe stil kan dit word as Sedoos gaan lê / wie kan dit mooier assie tortel sê / wie roerender assie bladstil bome / assie skewe verwaaide damwalbome / innie stil vroemôre as Sedoos gaan lê / hoe om ’n stilte in die hart te vind / genadig soos wanneer Sedoos gaan lê”.[17] En watter taal gee die nagevolge van oordaad en babelas so kragtig en veelseggend weer as die einste Boerneef se “ek is vanoggend blerrie blus / daars ’n doodsvlies oor my oë”?[18]

En watter beelde roep Van Wyk Louw nie op nie met sy “bobbejaan het geskrik / en sy gousblom sit / streep op ’n ry / teen elke klip”![19] Of dink hoeveel woorde ’n mens nodig gaan hê om te verduidelik wat Opperman kort en kragtig in vyftien woorde sê deur ’n bietjie met woorde en woordsoorte te toor: “vóór boom kan boom / moet klip eers klip, / en klip teel swaar / – glo miljoene jaar”.[20]

En nou, ná dié hoogbloei van wat Langenhoven “die wonder-omwenteling van die goue periode” genoem het, staan ons vandag voor die vierde aspek van die groei van Afrikaans, naamlik van –

IV       DIE TRAGEDIE VAN AFRIKAANS

Waarmee ek my nié aansluit by Breytenbach en Coetzee se stelling ʼn paar maande gelede oor die uitvaart van Afrikaans nie. En tog hou hulle verklaring vir ons ’n waarskuwing in.

Ek moes ʼn tyd gelede iets sê oor die toekoms van Standaardafrikaans en vir dié doel het ek gaan kyk na die eerste AWS van 1917. Die prentjie wat daar geskets word oor die Afrikaanssprekende volk en sy taalsituasie, word bevestig deur ander bronne, soos Nienaber se Die wonder van Afrikaans en Pienaar se Die triomf van Afrikaans. Die merkwaardige is dat dit groot en opvallende ooreenkomste toon met die huidige stand van sake. Ek hoef dit nie vir u voor te spel nie, maar ek impliseer baie deur die ou garde aan te haal. U moet u eie afleidings maak.

In die Voorwoord van dié eerste AWS skryf die opstellers: “Ontsaglik veel het daar met die Afrikanervolk sedert die tijd [nl. die tyd van die GRA] gebeur; en met sij taal!” Dan het hulle dit oor die ontstaan van die taal, ondanks “teëwerking”, en oor die feit dat mense nie die “nasionale betekenis” daarvan begryp het nie. Daar het, meen hulle, ’n drang ontstaan na “uiting van ons volksindividualiteit. Sodanige uiting … is alleen moontlik deur middel van die moedertaal: Afrikaans. Wil iemand uiting gee aan sij siel, en gebeur dit nie deur middel van sij moedertaal nie, dan staan sodanige taalvorm tussen hom en die uitdrukking van sij diepste wese. Vanself wil ons dus sôre dat ons taal in ieder opsig tot sij reg kom; dat dit die draer word van ons kultuur. Vandaar dat ons in die eerste plaas ons oog rig op die onderwijs. … Die weg wat ons moet inslaan, sien ons duidelik lê. Prinsipiële besware is daar nie; praktiese wel, veral ten opsigte van die onderwijs. Maar hierdie besware is niks meer as wat ’n mens in ’n owergangstydperk noodwendig moet verwag nie. Laat ons net onthou, veral diegene wat so geneig is om te kritiseer, dat ons werklik in ’n owergangstijdperk lewe. … op baiing punte heers daar nog heelwat onsekerheid. Maar die nodige vastheid kan ons alleen krij deur meer en meer ons taal as kultuurtaal te gebruik. … Dit hang dus af van die gebruik wat ons van ons taal maak. En die oomblik van werk is nou daar, werk vir die hele volk; maar dan so dat dit vir die verre toekoms dien.”[21] [My beklemtonings]

En luister ’n bietjie wat genl. Hertzog by geleentheid gesê het: “… maar het was mijn oortuiging vanaf de oorlog reeds, dat de bewaring van het zedelik karakter van ons volk lag in de herstelling van zijn taal; en wensen wij ons volk geen houthakkers en waterdragers te sien, dan moeten wij zorg dat de rechten van zijn taal hersteld worden. … Geen taal kan van een volk weggenomen worde zonder dat het karakter van het volk ook weg genomen wordt. Neem een taal weg en volk en karakter gaan ten gronde en hulpeloos verloren.”[22] [My beklemtoning]

Pres. MT Steyn het op die Nasionale Konvensie voor Uniewording o.m. die volgende gesê: “Wat die taal betref, moet daar absolute gelykstelling kom, in die Parlement, in die geregshowe, skole en publieke diens – oral. … Ons vra dit, menere, nie as ’n guns nie, maar as ons reg.[23] [My beklemtoning]

En in 1914, in ’n toespraak voor die Akademie, sê Langenhoven: “Maar ’n nasie sonder ’n taal is ’n onmoontlikheid. Daarin lê vir hom al sy geheue van die verlede, al sy bedrywigheid van sy hede, al sy hoop op die toekoms.”[24] [My beklemtoning]

Nog vroeër, in 1905, pleit ds. Willem Postma: “Seg nie, Engels is te sterk! te magtig! maar seg – ons is te swak, te blind om ons voordeel te sien en te gebruik. ’n Volk sonder taal, of liewer – die syn taal verag, is ’n karakterlose volk, en kan as volk nie bestaan nie, maar smelt weg in ’n ander. Nou is ons kans. Die geroep gaan uit van alle oorde van ons land om Afrikaans. En wie moet dit verwesenlik? ONS. U en ek. Ons is die volk …”[25] [My beklemtoning]

Dames en here, ek sê nie ons hoor al die kluitklap op die kis van Afrikaans nie, maar ek sê ek sien die manne met die grawe naderstaan. Ek vra u om net aan die volgende voorbeelde te dink:

  1. Pas hierdie week berig Beeld dat adjunk-regter-president Willem van der Merwe van die Gautengse Hoë Hof gesê het “Afrikaans as regstaal is baie naby daaraan om onthoof te word” en dat daar verlede jaar slegs drie Afrikaanse uitsprake in die hofverslae gerapporteer is.[26] Is dit goed genoeg in ʼn land waarin die Romeins-Hollandse reg so belangrik is?

  1. In By (bylae by Beeld) van 9 Oktober 2010 skryf Mulan Hao-Yoon, “’n Suid-Afrikaans gebore Chinees wat Afrikaans vlot praat en skryf”, van sy besoek op ’n Sondag aan die VTM en die Erfenissentrum. Hy skryf oor die uitbeelding van die “Afrikaner-volksgroep” wat “toppresteerders in elke faset van die land se menslike strewe” opgelewer het. Hy vermeld ook Afrikaans, “wat twee Bybelvertalings opgelewer het, en met vaardigheid in van die mees tegniese, vakkundige terminologie (soos in die sterrekunde, medisyne en ingenieurswese)”.[27] Besef en benut ons dit nog na behore?

  1. Dit is bekend dat Afrikaans as universiteitstaal baie ernstig bedreig word. Doen studieleiers en navorsers nog genoeg om hulle verhandelings en navorsingsresultate in Afrikaans te publiseer? Want skielik word by implikasie gesê al die studie en navorsing wat vantevore in Afrikaans gepubliseer is, is eintlik maar net parogiaal, want ons lewe mos nou in die Groot Nuwe Wêreld waarin Engels koning kraai!

  1. Op Woensdag 13 Oktober plaas Beeld op sy bladsy 2 drie berigte wat met ons Afrikaanse erfenis te doen het. Een behels die verandering en gee van nuwe plekname. Van die nuwe plekname wat gegee word, het slegs Tsonga en Ndebele minder name as Afrikaans voorgestel. Bowendien, sê die DKK se direkteur van lewende erfenis, kry “bitter min nuwe woonbuurte of eiendomsontwikkelings … etniese name. Die meeste word mooi Engelse name soos ‘Sea View’ gegee.”[28]

  1. Doen ons nog genoeg om ons kinders en kleinkinders entoesiasties oor Afrikaans te maak en hulle goeie Afrikaans te leer? Dring ons nog aan daarop dat skoolomsendbriewe, uitgedeelde aantekeninge en dergelike in goeie, korrekte Afrikaans geskryf word? Doen ons self nog moeite om korrek te spel en te skryf? Hoeveel van ons het ’n goeie Afrikaanse speltoetser op ons rekenaar? Hoeveel van ons besit ’n nuwerige Afrikaanse woordeboek of die jongste AWS en probeer ons kinders en kleinkinders aanmoedig om korrek te skryf en te spel?

  1. Daar word hoog opgegee oor hoe goed dit met Afrikaans gaan want Afrikaanse musiek staan so sterk. Maar het u al ’n bietjie dieper gekyk na sg. “Afrikaanse musiek”? Die lirieke is maar te dikwels onsinnige rymelary en daar is maar te dikwels geen verband tussen die ritme en klempatrone van die woorde en die ritme van die musiek nie. Is dit ʼn weerspieëling van Afrikaanse kreatiwiteit en vermaaklikheidskuns? En kyk maar hoe dikwels daar skryf- en spelfoute is op die omslae van nuwe albums wat op TV geadverteer word. ’n Mens sou sweer die vervaardigers het nog nooit daarvan gehoor dat samestellings in Afrikaans vas geskryf word nie. Bowendien, is “Daisy, jy maak my crazy”, “Jy is vir my so beautiful”, “Baby tjôôôklits” en so meer hoegenaamd Afrikaans?

  1. Teken ons hoorbaar en sigbaar beswaar aan as daar op ’n Afrikaanse radio- of TV-sender advertensies verskyn waarin die mooi Afrikaanse stem byvoorbeeld sê as jy dit of dat doen, kan jy ’n gevorderde bestuurskursus wen in ’n “Audi aar yt” – let wel, nie “Ôdi” nie, maar ’n mooi Duitse “Audi” voor die Engels. Of as die Afrikaanse motorjoernalis op TV al die deugde van die motor besing en die ryding self dan die “eye ex thirty-five” noem? Dis tog absurd. En ek weet advertensie-inkomste is noodsaaklik vir die media, maar as adverteerders Afrikaanse mense se geld en klandisie wil hê, is die minste wat hulle kan doen, nie om minstens in goeie Afrikaans te adverteer nie? Dis immers net hoflik.

  1. In baie opsigte is die voormalig Afrikaanse sepie Binnelanders, wat nou “Binneland sap djoedieky” heet, tekenend van wat maar oral aan die gang is. Omtrent al die “nuwe” akteurs, op een of twee na, se Afrikaans is, om die minste te sê, rudimentêr, en sodra een van hulle in ’n toneel kom en klaar ’n kniebuiging teenoor Afrikaans gemaak deur ’n woord of twee in Afrikaans te sê, word alles verder Engels, selfs al is al die ander karakters Afrikaans. Dit is blykbaar wat aan party Afrikaanse universiteite ook aan die gang is: sodra daar een of twee nie-Afrikaanssprekende studente in die klas is, word die hele lesing Engels. In oorlede Egoli het Frans Marx darem sy Engelse en Afrikaanse karakters in hul eie taal met mekaar laat praat. Moet ons so ’n trustanery in die aanwesigheid van Engels eenvoudig duld?

  1. As ’n mens deesdae praat van anglisismes, dan rys mense se hare en word jy herinner aan die “borstrok van Afrikaans” en die anglisismejagtery van die apartheidsjare. En nou hel ons oor na die ander kant: Die radio- of TV-joernalis of ‑advertensie praat van sionale, litieke, kónsepmotor, gesensieerde nansiële diensverskaffer. Luister maar hoeveel keer ’n mens skielik hoor “ek/hy doen”: *Jy sal seker dink die motor kos meer as wat hy doen. *Ek is seker hulle doen, Meneer. En dit is nie meer vreemd om te hoor dat mense “siende dat” (selfs die onsinnige “synde dat”) in plaas van “aangesien” gebruik nie, en dit is amper nie meer lagwekkend as iemand sê *hy het uit petrol uitgehardloop of *sy’t uitgemis op ’n goeie kopie Is dit wat ons wil hê Afrikaans moet word? Bloot Engels oorgeklank in Afrikaans en onverstaanbaar as ʼn mens nie Engels ken nie?

Dames en here, in die lig van die uitsprake van ons voorgeslagte oor die uiteinde van ’n taallose volk of ’n volk wat sy taal nie ag nie, wil ek pleit dat dit die hoogste tyd geword het dat ons weer ’n taalbeweging begin, dat ons ons mense weer besiel oor en met Afrikaans. Ons moet self weer taaltrots aanleer en dit by ons kinders en kleinkinders tuisbring. Ons moet ons kinders weer leer wat behoorlike Afrikaans is. Ons moet weer ons geld laat begin praat en ons stem dik maak teen mense wat ons taal vertrap deur miskenning of verwerplik swak taalgebruik. Dalk moet ons die instansies en maatskappye wat deur Afrikaanse kundigheid en ondernemingsgees en Afrikanergeld gekom het waar hulle vandag is, en almal wat hensoppers en joiners geword het, tot orde te roep. Dalk moet ons weer vir rubriekskrywers en liedjieskrywers en sepieskrywers laat verstaan dit is nie goed genoeg om ons taal te verdraai en te minag nie. Ons moet weer ons mense laat besef dat dit geen kuns is om dialoog of rubrieke of wat ook al grappig of informeel of “byderwets” te maak deur al om die ander woord Engels te maak nie.

Vanselfsprekend is instellings soos die Akademie en sy Taalkommissie, die Erfenisstigting, die Afrikaanse Taalraad, die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans, die FAK en so meer van die uiterste belang, maar laat my u herinner aan wat ds. Postma in 1905 gesê het: “En wie moet dit verwesenlik? ONS. U en ek. Ons is die volk …”

Ons voorgeslagte het ten bloede geveg vir die behoud van ons taal. Sal ons dit ook doen? Ons het altyd uit volle bors gesing: “ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra”. Die roepstem vir Afrikaans, ons pêrel van groot waarde, ons heel grootste kultuurdraer en ‑identifiseerder, weerklink nou, en as ons nie bereid is om te offer nie, is dit ikabod met Afrikaans.

Dan sal die woorde wat Van Wyk Louw Dias in die mond lê, skrikwekkend waar word van ons soetste moedertaal en ons volk:

“So lyk ’n einde dan, Infante:

stil, byna soos ’n vrede: sonder gebaar,

sonder dat helde breek, en sonder sterwe;

net uitklim op ’n strand, iets skrywe

in ’n boek … so effens land-in kyk …

Die hele dag lyk geen gebed werd nie.

Ons was nie iets besonders, ek en jy nie,

Pedro.”[29]

Is Afrikaans nog ons erns? Of gaan ons maar net toekyk hoe dit iets word wat in ’n boek geskrywe is en geen gebed werd is nie? Ek hoop dit ís nog ons erns, want sonder Afrikaans as volwaardige kultuurtaal kan ons ook nie as volk oorleef nie.

[1] P.J. Nienaber, Die wonder van Afrikaans (Elsiesrivier, Nasionale Handelsdrukkery, 1959), p. 3.

[2] P.H. Kapp, Waarom en hoe het Afrikaans tot volwaardige akademiese en wetenskapstaal ontwikkel? (Stellenbosch, ongepubliseerde ministeriële voorlegging, 2010), pp. 19, 20.

[3] Nienaber, op. cit., p. 4.

[4] Kapp, op. cit., pp. 4, 5, 17, e.a.

[5] E.C. Pienaar, Die triomf van Afrikaans (Tweede hersiene en vermeerderde druk, Kaapstad, Nasionale Pers, 1946), p. 385.

[6] Pienaar, op. cit., p. 408.

[7] Nienaber, op. cit., p. 77.

[8] Kapp, op. cit., pp. 12, 13.

[9] Kapp, op. cit., p. 19.

[10] Pienaar, op. cit., p. 315.

[11] Nienaber, op. cit., p. 6.

[12] D.F. du Toit Malherbe, Vakwoordeboek/Scientific and Technical Dictionary (Pretoria, JH de Bussy; Kaapstad, HAUM, 1937), titelblad.

[13] Chubb & Son’s Lock & Safe Company (SA), The Chubb Technical Dictionary (English-Afrikaans, Afrikaans-English). Uitgewer/drukker en jaartal nie vermeld.

[14] Twee Oud-onderwysers, Taalgoggas in die Daelikse Lewe. (Kaapstad, Nasionale Pers, 1937).

[15] E. Eybers, “Maria”, in D.J. Opperman Groot Verseboek (Kaapstad, Tafelberg, 1978), p. 221.

[16] D.J. Opperman, “Kersliedjie” in Groot Verseboek (Kaapstad, Tafelberg, 1978), p. 268.

[17] Boerneef, Versamelde poësie (Kaapstad, Tafelberg, 1977), p. 168.

[18] Boerneef, op.cit., p. 117.

[19] N.P.v.W. Louw, Versamelde gedigte (Goodwood, Tafelberg/Human & Rousseau, 1981), p. 215.

[20] D.J. Opperman, Edms. Bpk. (Kaapstad, Human & Rousseau, 1970), p. 10.

[21] T.H. le Roux, D.F. Malherbe en J.J. Smith (samestellers in opdrag van die Suidafrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns), Afrikaanse Woordelijs en Spelreëls (Bloemfontein, Het Volksblad-Drukkerij, 1917), pp. iii, iv.

[22] Nienaber, op. cit., p. 77, 78.

[23] Nienaber, op.cit., p. 38.

[24] Nienaber, op.cit., p. 24.

[25] Nienaber, op.cit., p. 26.

[26] J.M. Versluis, “Nog bronne kwyn met Afrikaans in die regspraak”, in Beeld, 2010-10-11, p. 1.

[27] M. Hao-Yoon, “Sondag by die Monument”, in By, bylae by Beeld, 2010-10-09, p. 15.

[28] L. Steenkamp, “Plekname: Afrikaans ly” in Beeld, 2010-10-13, p. 2.

[29] N.P.v.W. Louw, Dias (Kaapstad, Tafelberg, 1975), p. 37.