Een-en-twintig taalwetmatighede en die toekoms van Afrikaans

The extinction of each language results in the irrecoverable loss of unique cultural, historical an ecological knowledge. Each language is a unique expression of the human experience of the world … Every time a language dies, we have less evidence for understanding patterns in the structure and function of human language, human prehistory, and the maintenance of the world’s diverse ecosystems. Above all, speakers of these languages may experience the loss of their language as a loss of their original ethnic and cultural identity.

The Economist, 1 January 2005

 

“Die groei van Afrikaans as volle funksionele taal is een van die merkwaardigste kulturele verskynsels van Suid-Afrika gedurende die twintigste eeu.” Die waarheid van hierdie stelling van die historikus, Hermann Giliomee, word onderstreep deur die Duitse taalkundige Heinz Kloss. Hy meen dat Afrikaans die enigste nie-Europese, nie-Asiatiese taal is wat gedurende die vorige eeu volle universiteitstatus verwerf het en wat in al die vertakkinge van die lewe en die akademie gebruik kan word. Kloss se stelling word bevestig deur die Frans-Kanadese taalkenner, Jean Laponce, wat sê dat Afrikaans een van net vier tale is wat in die twintigste eeu ten volle gemoderniseer het. Daarbenewens het Galloway se navorsing bevind dat Afrikaans die sterkste literêre taal in die land in die 1990’s was as produksie in Suid-Afrika as maatstaf gebruik is.

Nieteenstaande hierdie prestasies, het Afrikaans se posisie daarna begin verswak, en het hierdie afdraandgang ná 1994 begin versnel. Dit is algemene kennis dat Afrikaans onder druk is en dat hard gedink en gewerk sal moet word om te verseker dat Afrikaans as ’n volledige funksionele taal voortbestaan. Gelukkig kan Afrikaans belangrike lesse leer uit die internasionale taalervaring en die navorsing van toptaalkundiges. Dit is vanselfsprekend nie moontlik om die faktore wat die lotgevalle van ’n taal bepaal in “taalwette” te vereenvoudig nie. Dit is tog wel moontlik om uit bewese navorsing en internasionale gevallestudies geldige afleidings te maak waaruit Afrikaanssprekendes kan leer en wat hulle kan gebruik om die toekoms van ons taal te verseker. Daarom is hierdie 21 “taalwetmatighede” ’n doelbewuste vereenvoudiging en opsomming van die belangrikste taallesse soos dit uit navorsing en gevallestudies blyk. Dié taalwette verwys dus nie na wetgewing nie, maar eerder na wetmatighede.

Ten slotte sal die lesse wat uit suksesvolle en onsuksesvolle pogings om tale te bevorder in die vorm van ’n aantal voorstelle opgesom word met die doel om Afrikaans te bevorder.

1. Taalverskuiwing na ’n wêreldtaal bedreig kleiner tale

Die grootste gevaar vir ’n betreklik klein taal is die geleidelike taalverskuiwing na ’n wêreldtaal soos Engels toe – gewoonlik ná ’n oorgangstydperk van tweetaligheid. Hierdie proses word aangehelp as eerstetaalsprekers ’n positiewe houding teenoor die oorheersende taal het en nie omgee, of nie die bedreiging wat die betrokke taal inhou, besef nie. Taalsosioloë soos Jean Laponce en prof. Jaap Steyn voer aan dat die grootste faktor wat taalverskuiwing veroorsaak die gebrek aan ’n taalgebied is waarin dit die moedertaal van die grootste meerderheid inwoners vorm.

Die internasionaal bekende antropoloog, Jared Diamond, waarsku dat taalverskuiwing binne twee geslagte kan plaasvind, en beskryf die sterwensproses van mikrotale treffend in die volgende aanhaling:

The usual result is that minority young adults tend to become bilingual, then their children become monolingual in the majority language. Eventually the minority language is spoken only by older people, until the last of them dies. Long before that end is reached, the minority language has degenerated through loss of its grammatical complexities, loss of forgotten native words, and incorporation of foreign vocabulary and grammatical features.

Hoewel Afrikaans nie ’n mikrotaal is nie en oor baie meer hulpbronne en taalkrag as mikrotale beskik, was magtige wêreldtale soos Duits en Frans al in sekere Europese streke ’n slagoffer van taalverskuiwing.

2. Tweetalig word eentalig

Die Franssprekende taalsosioloog, Jean Laponce, waarsku dat ’n tweetalige universiteit of skool bloot die skyn van taalgelykheid skep. Tweetaligheid in ’n opvoedkundige instelling is in die praktyk ’n oorgangsproses na taalinlywing en uiteindelik na eentaligheid in die wêreldtaal.

3. Hoër taalfunksies is noodsaaklik vir taaloorlewing

Die handhawing van ’n taal se hoër funksies is bepalend vir die toekoms van enige taal. Volgens taalsosioloë behels dit die amptelike gebruik van ’n taal in staats- en openbare instellings soos die staatsdiens, geregshowe, universiteite, skole en die handel. Kom ’n taal nie in sy hoër of formele funksies tot sy reg nie, ondermyn dit gaandeweg ook die taal se laer of informele funksies, soos die algemene gebruik van die taal by die huis, in musiek en by feeste. Hierdie vraagstuk bied besondere uitdagings as die voorstanders van die kleiner taal uitgesluit is van politieke mag omdat die magshebbers die beheer oor die hoër funksies uitoefen. Die bekende opvatting dat Afrikaans sal oorleef solank dit net in ons harte is, gepraat word en ’n vriendelike taal is, verreken nie en onderskat die bestaansvoorwaardes vir taaloorlewing.

4. Taalproduksie bepaal taalverbruik

Die stand van Afrikaans is volgens prof. Hermann Giliomee op die oog af vol teenstrydighede. Die belangrikste teenstelling is dat, hoewel taalverbruik skynbaar floreer, taalproduksie kwyn. Daar is die afgelope jare – moontlik juis vanweë die owerheidsdruk op formele Afrikaans – byvoorbeeld ’n groot oplewing in die informele funksies soos Afrikaanse musiek, kunstefeeste en ligte leesstof. Sonder produksie is verbruik egter nie volhoubaar nie. Volgens Giliomee word met taalproduksie word onder meer verwys na universiteite en skole waar ’n nuwe geslag Afrikaanssprekendes opgelei word en waar Afrikaans as wetenskaps-, tegnologie-, literêre en vaktaal verder ontwikkel word.

5. Taalmedia is die belangrikste vermenigvuldiger

Die media is ’n noodsaaklike “vermenigvuldiger” van taal en taalinstellings. Die media bied aan mense ’n leefwêreld in hul eie taal en bind ’n taalgemeenskap saam. Die media kan hul gebruikers inlig, opvoed en vermaak. Dit is ’n vermenigvuldiger van Afrikaanse instellings se werk en kan byvoorbeeld Afrikaanse skole bevorder, Afrikaanse koopkrag mobiliseer, steun werf vir Afrikaanse projekte en ’n Afrikaanse lewe moontlik maak.

6. Onderwys en opleiding kweek die volgende geslag sprekers

Dit is ironies dat diegene, wat tydens die Soweto-opstande van 1976 teen Afrikaans as die taal van die verdrukker in verset gekom het, nou geesdriftig die taal van die grootste koloniale moondheid in die onlangse geskiedenis ondersteun. Die politieke ideologie van nasiebou is vir die bewindhebbers belangriker as die gevolge van hierdie opvoedkundige taalmishandeling van miljoene swart kinders. Suid-Afrika is moontlik nou die enigste land ter wêreld waar dit van sy kinders verwag word om hul huistaal te laat vaar.

Moedertaalonderrig is nie net ’n taalbeginsel nie, maar veral ook ’n opvoedkundige beginsel. Daar is genoegsame bewyse dat jongmense ten beste kennis in hul eie taal opdoen, wat hulle dan terselfdertyd in staat stel om hierdie kennis ook doeltreffend in ’n ander taal toe te pas.

Dr. Rolf Stumpf het, toe hy president van die RGN was, met verwysing na die goeie uitslae van Afrikaanse moedertaalskole teenoor ander openbare skole gesê dat ons land eerder ’n taalprobleem as ’n onderwysprobleem het. Die Zimbabwiese geleerde, Tembo Dlodlo, het al in 1997 gewaarsku dat Afrika “wetenskaplik, ekonomies en tegnologies agterlik” sal bly, tensy skole kinders se moedertale as onderrigmedium begin gebruik.

Universiteite is egter net so belangrik. Prof. Lawrence Schlemmer het dit treffend saamgevat: “Die grootste gevaar vir Afrikaans is dat as dit as universiteitstaal verswak of verdwyn dit die ondergang sou beteken van Afrikaans as wetenskapstaal, as vaktaal, as taal van intellektuele omgang, en ook as letterkundige taal. Baie tale het al op grondvlak oorleef, maar kon nie voluit leef in al hul taalfunksies nie. Daar is min twyfel dat Afrikaans in sportstadions, kafees, kroeë, en sit- en slaapkamers gaan oorleef. Maar wie gaan dit ernstig opneem as dit nie op intellektuele en professionele vlak oorleef nie? Soos die meeste ander inheemse Afrikatale sal Afrikaans in so geval onthoof wees.” Prof. Jakes Gerwel het in die 2001-verslag van die Gerwel-kommissie ook bevind dat Afrikaans sonder twee universiteite met ’n spesiale verantwoordelikheid om Afrikaans te ontwikkel, op die duur nie staande sal kan bly nie.

Prof. Giliomee het ook gewaarsku dat die verengelsing van eertydse Afrikaanse universiteite vir Afrikaans rampspoedig kan wees. Hy meen dat sonder Afrikaanse universiteite, wat ’n Afrikaanse kultuurkarakter dra, daar nie veel kans is dat Afrikaans as ’n taal met hoër funksies kan voortbestaan nie. Dit sal volgens hom ook lei tot die verengelsing van die Afrikaner-elite. Dit is insiggewend dat mnr. Nelson Mandela in 1996 by geleentheid van die toekenning van ’n eregraad in Stellenbosch, gesê het dat “… in ’n stelsel van meer as twintig universiteite [dit] beslis moontlik moet wees om ’n ooreenkoms te bereik dat daar ten minste een universiteit moes wees wie se belangrikste taak behoort te wees om die volgehoue ontwikkeling van Afrikaans as akademiese medium te bevorder.”

Die jeug is die toekoms van die taal en daarom is dit vir taalvolhoubaarheid noodsaaklik dat spesiale aandag aan hulle gegee word.

 

7. Ekonomiese waarde van ’n taal is noodsaaklik vir oorlewing

Dit is noodsaaklik dat ’n taal ook ’n ekonomiese waarde het wat beteken dat mense ook in hul moedertale moet kan werk of ekonomies aktief moet kan wees. Dit sluit natuurlik die beheersing van ’n wêreldtaal soos Engels saam met hul moedertaal in. Dit is insiggewend dat die Indiese grondwet bepalings bevat wat taalkennis ’n voorvereiste maak vir indiensname in bepaalde provinsies van die land. Daarteenoor maak die rassekwotas vir indiensneming in Suid-Afrika dit uiters moeilik om Afrikaans in die ekonomie te gebruik, en raak Engels daarom selfs die amptelike en saketaal in die Wes-Kaap.

Die uitdaging is dat ’n geïntegreerde ekonomie en globalisering groot druk op kleiner en minderheidstale plaas. Daarom word ekonomiese groei in kleiner taalgebiede gesien as ’n bedreiging vir hierdie tale. Nuwe tegnologie bied egter in baie gevalle ’n uitweg uit hierdie ekonomiese taaldoodloopstraat.

8. Amptelike erkenning en gebruik bepaal taalstatus

Die Grondwet maak teoreties vir die amptelike status van 11 tale voorsiening, maar in die praktyk het Engels die landstaal en die prestigetaal geword. Dit het veral gebeur vanweë die status wat vanaf owerheidsweë aan die taal verleen word, terwyl die mag van Engels as wêreldtaal natuurlik ook grootliks daartoe bygedra het. Hierdie twee faktore was saam daarvoor verantwoordelik dat Engels die taal van aspirasie van miljoene Engelssprekendes geword het al is dit nie hul huistaal nie.

9. Taalaktivisme en taalbedinging is noodsaaklik

Prof. Nic Grové van die Universiteit van Pretoria het tereg gesê dat ’n mens nie mag weggee wat nie joune is om weg te gee nie. Dit is inderdaad belangrik dat Afrikaans die beeld van ’n vriendelike en versoenende taal moet hê en dat die taal se sprekers in hul ywer om hul taal te beskerm, nie mense van ander tale moet vervreem nie. Dít beteken hoegenaamd nie dat die prys van versoening die voortbestaan van die taal self mag wees nie – dan is die prys te hoog. Vriendelikheid moenie met slapheid verwar word nie – ’n laat-maar-loop-houding loop uit op taaldood of taalmoord. Dit is hoekom die bekende “wet van Laponce” lui dat “hoe vriendeliker mense teenoor mekaar is, hoe feller die geveg tussen tale woed.” Daarom het internasionale ondervinding gewys dat daar soms nie ’n ander uitweg as ’n “taalstryd” is as ’n taal se voortbestaan op die spel is nie. Die harde werklikheid is ongelukkig dat aktiewe taalburgerskap noodsaaklik is vir taaloorlewing omdat passiewe taalonderdane die dood in die taalpot is. Dit is nou maar so dat owerhede meermale net lippediens aan veeltaligheid betoon, en in die praktyk kleiner tale doodwens omdat hulle dit sien as ’n bedreiging vir nasionale eenheid. In Afrika is Engels, en die ander gewese koloniale tale, ter wille van “nasiebou” as die amptelike tale verkies omdat regerings dit as die beste strategie geag het om verdeeldheid op grond van etnisiteit te voorkom. In die praktyk het hierdie beleid deel gevorm van die diskriminasie teen bepaalde gemeenskappe, en was dit veel eerder ’n sleutelrede vir verdeeldheid as samebinding. Daarom is die beginpunt van gesonde taalburgerskap dat daar vriendelik en ferm aangedring moet word op die grondwetlike taalregte en voldoening aan internasionale taalstandaarde.

In die praktyk is ’n dubbelloopstrategie nodig: die beskerming van grondwetlike en internasionale taalregte as die minimum, terwyl die taalgemeenskap self verantwoordelikheid moet neem om die taal deur burgerlike instellings tot volle potensiaal te ontwikkel. In die proses moet met die owerheid beding word, maar selfdoenprojekte moet ook van stapel gestuur word.

 

10. Volle taalfunksies is belangrik vir ’n vol taallewe

’n Lewende taal met ’n toekoms is ’n taal wat ’n volledige funksionele taal is en nie net vir sekere funksies gebruik word nie. Hoe meer funksies ’n taal verloor, hoe vinniger gaan die taal se gebruikswaarde agteruit, hoe kleiner krimp sy taalwêreld, en hoe makliker verskuif sy taalgemeenskap na ’n ander meer bruikbare taal. Dit beteken hoegenaamd nie dat ’n taal homself moet probeer afsonder op ’n taaleiland nie – die beheersing van ’n wêreldtaal is steeds nodig.

11. Taalinstellings is noodsaaklike vermenigvuldigers

Taalinstellings is noodsaaklik vir die oorlewing van ’n taal, veral vir minderheidstale wat nie oor ’n eie grondgebied en owerheid beskik nie. Hierdie instellings se taalkrag bestaan daaruit dat ’n minderheidstaal in die instelling ’n meerderheidstaal is. Instellings soos skole, die media en gemeenskapsorganisasies kan ook as belangrike vermenigvuldigers van tale dien. Om die volle funksionaliteit van ’n taal te behou is dit belangrik dat daar vir elke gebied sterk taalinstellings bestaan. Die rede hiervoor is dat hierdie instellings die taal op elke betrokke gebied bevorder. Die belegging in taalinstellings op alle belangrike gebiede is ’n onmisbare deel van ’n taalstrategie.

12. Taalpraktyk is belangriker as taalteorie

 Afrikaans is een van ons land se 11 amptelike tale wat Suid-Afrika in teorie ’n veeltalige land maak. Die nasionale talewet, wat beslag hieraan moes gee, is eers ná ’n hofsaak in 2011 gefinaliseer en bied nie voldoende beskerming aan al die nie-Engelse tale nie. ’n Groeiende gaping tussen die grondwetlike teorie en die taalpraktyk het gevolglik vinnig ontstaan, en dit het geblyk dat die regering se verbintenis tot veeltaligheid oorwegend net lippediens was.

Die staatsdiens het ná 1994 baie gou verengels, en daarmee gepaardgaande die staatsmedia, openbare instellings en die meeste van die voormalige Afrikaanse universiteite, technikons, tegniese kolleges en ander opleidingsinstellings. Afrikaanse skole het ook gou onder druk gekom en talle Afrikaanse skole moes hul voertaal verander. Die toekoms van ’n taal word nie deur mooi grondwetlike teorie bepaal nie, maar deur die taalpraktyk in ’n land. Wanneer die owerheid nie verantwoordelikheid vir ’n minderheidstaal aanvaar nie, is die enigste oplossing dat die taalgemeenskap dit self doen deur sterk selfdoentaalinstellings te stig.

13. Groepsregte is ’n voorwaarde vir taaloorlewing

Die beskerming van groepsregte mag in Suid-Afrika omstrede wees, maar dit word internasionaal wyd gesien as ’n voorwaarde vir die gelyke genieting van die individuele regte van ’n kleiner taalgemeenskap. Die rede daarvoor is dat die individuele regte van ’n meerderheid in die praktyk voorkeur geniet bó die individuele regte van lede van minderheidsgemeenskappe. Dit spruit uit die feit dat meerderhede meermale hul politieke mag gebruik om die polities-maglose minderhede se grondliggende taalbelange te verwaarloos of selfs te benadeel. Minderhede kan dit eenvoudig nie bekostig om in ’n getallewedloop met meerderhede betrokke te raak nie omdat dit ooglopend lei tot politieke ongelykheid. Gelykheid is tog nie net ’n formele begrip nie, maar moet ook wesenlike gelykheid verteenwoordig.

Die kern van die meeste suksesvolle politieke skikkings in die moderne tyd is magsdeling en minderheidsregte. Dit was onder meer die sleutel tot die skikkings in Noord-Ierland, die Balkan en Kosovo, en is nou ’n voorwaarde vir toelating tot die Europese Unie. Hierdie skikkings het in die praktyk meermale beteken dat ’n meerderheidsregering ingeruil is vir die beskerming van minderheidsbelange.

’n Taal het meer as taalregte nodig om te oorleef. Daar is ’n groot verskil tussen taalregte en die regte van taalgroepe. Taalregte handel net oor taal, terwyl taal bloot een van die spektrum van regte is wat taalgroepe nodig het om blywend voorspoedig te kan voortbestaan. Indien ’n owerheid slegs die taalregte van een gemeenskap sou respekteer, kan die plafon vir taaloorlewing steeds te laag wees om die taal se voortbestaan te verseker. Indien ’n owerheid byvoorbeeld ’n land so sou regeer dat dit ’n kritieke massa van ’n taalgroep sodanig sou vervreem dat hulle emigreer, sou die betrokke taal nie oorleef nie al word dit op die oog af deur die regering gerespekteer. ’n Taal het vir sy oorlewing die volledige spektrum van regte van taalgroepe nodig, soos die reg op taalgegronde onderwysinstellings.

’n Taalminderheid is in die praktyk gewoonlik polities magteloos en die lede van hierdie groep is in die afwesigheid van beskermingsmaatreëls vir die groep blootgestel aan die aantasting van hul grondliggende belange. Daarom word groepsregte in die moderne staatspraktyk van wenlande as deel van menseregte gesien.

14. Taalgetalle en -verspreiding is toekomsbepalend

’n Taal groei as sy getal sprekers toeneem, en kwyn as die getalle daal. Die 2011-sensus toon dat 13,5% van Suid-Afrikaners se huistaal Afrikaans is – wat 6,58 miljoen mense verteenwoordig. Dit maak van Afrikaans die derde grootste huistaal in die land. Die meeste Afrikaanssprekendes woon in die Wes-Kaap (2,8 miljoen), gevolg deur Gauteng met meer as 1,5 miljoen. Die uitdaging vir hierdie taalgemengde gebiede is dat hulle terselfdertyd die migrasiebestemming van ’n groeiende aantal nie-Afrikaanssprekendes is, en dat regeringsbeleid, ekonomiese sentralisering en globalisering Engels bevoordeel.

Die verspreiding van ’n taal se sprekers is egter net so belangrik as sy getalle. ’n Groot uitdaging vir Afrikaans is dat die meeste sprekers in gebiede met ’n taalgemengde bevolking bly. Die konsentrasie Afrikaanssprekendes is die sterkste in die ylbevolkte Noord-Kaap. Die voordeel hiervan vir Afrikaans is dat hierdie gebied betreklik afgesonderd is met minder sprekers van ander tale en die gepaardgaande taalmededinging.

15. Taalwil en taalhandhawing is deurslaggewend

Die wíl van ’n taal se sprekers om die taal te handhaaf, is die belangrikste voorwaarde vir taalhandhawing. Hierdie taalwil blyk onder meer uit die mate van ’n taalgemeenskap se waardering vir hul taal, letterkunde en ander kulturele werk. Die bewustheid van taalbedreiging en die bereidheid om hul taal in die vorm van taalgetrouheid en doelbewuste toewyding aan taalbevordering te handhaaf, is net sulke bepalende voorwaardes.

16. Taal is bepalend vir voorspoed

Afrikalande het feitlik voor die voet die voormalige koloniale tale om politieke redes tot amptelike status verhef omdat hulle dit as die beste “nasiebou”-strategie gesien het. Terwyl dit ten beste gemengde welslae as politieke strategie gehad het, het dit ekonomies gesproke gewoonlik rampspoedige gevolge vir die breë bevolking gehad.

Die eerste slagoffer van hierdie strategie was gewoonlik die skoolstelsel, wat deur die invoer van vreemde tale geslagte kinders ontmagtig het. Ghandi het verklaar dat die invoer van Engels as skooltaal Indië ten minste ’n geslag teruggesit het. Daarbenewens is daar ’n duidelike verband tussen taalgebruik en ekonomiese voorspoed. Botswana kon deur die gebruik van moedertaalonderwys sy per capita-inkomste tot dieselfde vlak as dié van Portugal bring, terwyl ander, ryker lande vanweë hul taalbeleid veel armer daaraan toe is.

Die Keniaanse intellektueel, Ali Mazrui, het dekades gelede al ’n insiggewende rede vir die ontwikkelingsvraagstuk in Afrika verskaf. Hy het al in die 1960’s die teenstelling tussen die suksesvolle Japanse modernisering en die oorwegend onsuksesvolle Afrika-pogings om te ontwikkel, duidelik uitgelig:

Mazrui het korrek daarop gewys dat Japan se sukses te danke was aan sy strategie om Westerse wetenskap en tegnologie oor te neem, maar nie die Westerse tale en kultuur nie. “Westerse wetenskap, Japanse gees,” het die Japanners dit genoem. Al die ander sukseslande het later hierdie suksesresep gevolg. Daarteenoor het Afrika net die teenoorgestelde gedoen, sê Mazrui. Hulle het die Westerse tale aangeneem, maar nie hul wetenskap en tegnologie nie.

Die gevolg hiervan is dat, benewens ’n klein elite van verwesterde Anglo-Afrikane in Mazrui se terme, die massa nie ontwikkel het nie. Hulle kón waarskynlik nie ontwikkel nie omdat die Westerse tale prakties ’n onoorkomelike versperring vir die Westerse wetenskap en tegnologie was.

17. Taal moet deel wees van identiteit

Die bekende taalkundige, prof. Jaap Steyn, meen dat waar taal ’n belangrike simbool van ’n volk of gemeenskap se identiteit is, dit sterker bestand is as in gemeenskappe waar die taal slegs beskou word as ’n kommunikasie-instrument wat, indien nodig, verruil kan word vir ’n nuttiger taal. Ander vooraanstaande sosiolinguiste aanvaar ook dat ’n taal soos Afrikaans wat met Engels as ’n wêreldtaal moet meeding, homself net kan handhaaf as ’n beduidende deel van sy sprekers dit as ’n belangrike deel van hul identiteit beskou.

Ná die Anglo-Boereoorlog het taalnasionalisme ’n deurslaggewende rol gespeel om Afrikaans ná die nederlaag en gepaardgaande verlies aan taalfunksies en -status te red. Só het taalgetrouheid ’n bepalende toets vir Afrikanerskap geword en was dit die spilpunt waar rondom ’n taalstryd teen Engels gevoer is.

Breyten Breytenbach het tereg gesê dat Afrikaans nie net ’n gemakstaal of ’n voertaal kan wees nie, maar beide ’n uitdrukking is van identiteit en vormgewing van ’n ideë- en gevoelswêreld.

18. Afrikaans moet bybly in die tegnologiese wedloop

Die tegnologie- en inligtingsrewolusie is waarskynlik ’n groter bedreiging vir Afrikaans as regeringsbeleid en -praktyk. Daarom is dit noodsaaklik dat Afrikaans in hierdie tegnologiese taalwedloop bybly deur Afrikaanse tegnologie en veral Afrikaanse inligting en kennis wyd beskikbaar en toeganklik te maak. Skoolkinders se vrye toegang tot gehalte-inligting in Afrikaans moet die grootste prioriteit geniet.

19. Tale het beskerming nodig

Moderne taalminderhede weet dat hul klein getalle hul kwesbaarste punt is en dat hulle nie net op hul getalle kan staatmaak vir hul taalwelstand nie. Selfs ’n groot taalgemeenskap soos Frankryk beskerm hul taal aktief. Hulle verbied onder meer Engels in die reklamewese en beperk die aantal Engelse rolprente wat die land binnekom. Die land se minister van kultuursake dra die verantwoordelikheid om Frans se welstand te monitor en die taal van 60 miljoen Franse te beskerm.

Terselfdertyd is die wyse waarop die Franssprekende Kanadese van Quebec hul moedertaal beskerm, ’n aanskouingsles vir minderheidstaalsprekers oor hoe hulle te werk moet gaan om hul tale te beskerm. Hierdie maatreëls is vervat in Quebec se Handves van die Franse Taal van 1977, wat ten doel het om Frans se rol as amptelike taal te versterk. Die wet gebied onder meer die verfransing van die werkplek en handelswêreld en maatskappye kan net regeringskontrakte kry as hulle oor ’n sertifikaat beskik dat Frans as standaardtaal gebruik word. Hulle werk ook verengelsing onder die jeug teë deur die toegang van Franssprekende kinders tot Engelse skole te beperk. Ruim voorsiening word vir Franse universiteite gemaak. Die minister wat vir die handves verantwoordelik was, se standpunt was dat Quebec die nuwe eeu in Frans wil binnegaan. Die dryfkrag agter die sterk Franse onafhanklikheidstrewe is dat Franse “moeg is om ’n minderheid in Kanada te wees, en eerder ’n meerderheid in hul eie land wil wees”. Vir hulle gaan dit nie om ’n taalstryd nie, maar om die volle funksionaliteit van die Franse taal.

20. Samewerking met taalvennote in Suid-Afrika en stamlande is nodig

Dit is belangrik om te besef dat Afrikaans aan al sy sprekers behoort en nie aan ’n bepaalde groep nie. Afrikaans is inderdaad een taal met vele kulture. Terselfdertyd behoort die taal se toekoms nie net aan die aantal sprekers nie, maar aan die sprekers wat taalbewus is, die taalbedreigings besef en bereid is om iets daaraan te doen.

Die smee van taalvennootskappe tussen Afrikaanse groepe met ander taalgroepe in Suid-Afrika én met die Nederlandse taalfamilie in ons stamlande is van groot belang vir die toekoms.

21. Politieke mag is belangrik vir ’n taal se toekoms

Die geskiedenis van die opkoms en val van ryke en tale bewys dat politieke en militêre mag, gerugsteun deur ekonomiese welvaart, waarskynlik die enkele grootste rede agter die huidige stand, omvang en welstand van die wêreld se groot tale is.

Hoewel die koloniale era lankal verby is, verleen die voortgesette politieke, ekonomiese, kulturele en militêre mag van die Engelssprekende wêreld steeds ’n magtige stukrag aan Engels. Afrikaans het op sy beurt weer op ’n veel kleiner skaal gebaat by die politieke, ekonomiese en militêre mag wat Afrikanersprekers voor 1994 uitgeoefen het. So het Afrikaans vanweë sy politieke mag daarin geslaag om ’n veel groter invloed as sy getalle uit te oefen. Net soos die verlies aan politieke mag Russies in Suid-Asië en Sentraal- en Oos-Europa erg nadelig geraak het, het die nuwe orde met sy skielike magsverskuiwing Afrikaans uit die staanspoor verswak.

Dit is vanweë taal- en getallewerklikhede nie praktiese politiek om van Afrikaans weer ’n bepalende politieke mag te maak nie, maar dit is wel nodig dat Afrikaanssprekendes besin oor maniere om wel hul politieke bedingingsmag te verhoog – binne en buite die parlement. Hierdie bedingingsmag behoort dan aangewend te word om Afrikaans te beskerm.

 

Bronne geraadpleeg:

  • Baker, C. 1993. Foundations for bilingual education and bilingualism. Clevedon: Multilingual Matters.
  • Burger, W. 2006. “Die Oop Gesprek”. NP van Wyk Louw Gedenklesings. Lapa. Pretoria.
  • De Varennes, F. 2010. “Language Rights in South Africa: All are Equal, but Some are More Equal than Others?”. Faculty of Law, University of Pretoria
  • Diamond, J. 1991. The Rise and Fall of the Third Chimpanzee, Vintage Books, London. Later published as The Third Chimpanzee
  • Du Toit, ZB. 1999. Die Nuwe Toekoms. JP van der Walt. Pretoria.
  • Cluver, AD de V, 1991. “A Systems Approach to Language Planning: The Case of Namibia”. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Letterkunde.
  • Galloway, F., 2002. Statistical Trends in the South Africa Book publishing in the 1990s, Alternation, 9 (1).
  • Giliomee, H. & Schlemmer, L. 1999. The Proposed Future Language Profile of the University of Stellenbosch. Report commissioned by Prof. A.H. van Wyk, US Rector. December.
  • Giliomee, H. & Simkins, C. (eds). 1999. The Akward Embrace: One Party-domination and Democracy, Cape Town: Tafelberg.
  • Giliomee, H. & Lawrence Schlemmer et al. 2001. Kruispad: Die toekoms van Afrikaans as openbare taal. Kaapstad: Tafelberg.
  • Giliomee, H. & Schlemmer, L. 2006. ’n Vaste plek vir Afrikaans: Taaluitdagings op kampus. Stellenbosch: Sun Press
  • Giliomee, H. 2009. The Afrikaners: Biography of a People, bygewerkte uitgawe, Kaapstad:Tafelberg.
  • Glazer, N. 1995. Individual Rights against Group Rights, in Kymlicka. Will. (ed); The Rights of Minority Cultures. Oxford University Press.
  • Grové, N. 2009. Teks van toespraak by FAK se 80ste verjaardag, 30 Oktober. Pretoria.
  • Kloss, H. 1977. The Unfolding of Afrikaans in its Germanic, African and world Context. Pietersburg: University of the North.
  • Langner, D, Nel, C. Red. 2014. Hoekom Afrikaans? FAK.
  • Laponce, J. 1987. Languages and their Territories. Toronto: University of Toronto.
  • Malan, K. Politokrasie. 2011. Pretoria University Law Press.
  • Steyn, JC. 1980. Tuiste in eie taal- die behoud en bestaan van Afrikaans. Tafelberg.
  • Steyn, J.C. 2014. Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare. Pretoria: Kraal uitgewers.
  • Van der Berg, S. 2003. Taalverskuiwing en Afrikaans: ’n Ontleding van die sensusdata, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 43(3 & 4):177-87.
  • Van Rensburg, FIJ. 2004. Afrikaans. Lewende taal van miljoene. Van Schaik. Pretoria.
  • Wurm, S. 2002. Strategies for language maintenance and language survival. In David & Maya Bradley (eds). Language endangerment and language maintenance. London: Routledge, Curzon.