Vrae en antwoorde oor Afrikaans se plek op SA kampusse

cdphUMmi_400x400

(Hierdie plasing is ‘n opsomming, die volledige dokument kan verkry word deur ‘n e-pos te stuur na christoff@fak.org.za)

Is die bohaai oor Afrikaans op universiteitskampusse die moeite werd?

Die Beginsel-standpunt

  • Ja, want ons is Afrikaans.
  • Tersiêre opleiding in Afrikaans is nie ’n vergunning nie, maar ’n reg.
  • Indien die reg nie opgeneem word nie, verskraal dit tot niks.
  • Dit gaan net soveel oor die behoud van taal as instansies en institusionele kennis van personeel wat oor jare met baie tyd en geld opgebou is.
  • Groepe soos Open Stellenbosch het nie net ’n taalagenda nie, maar inderwaarheid ’n rassesuiweringsagenda.
  • Dus, moet daar ’n bohaai opgeskop word oor Afrikaans op universiteitskampusse, omrede daar soveel meer as net taal op die spel is.

 

Die meerderheid studente op universiteitskampusse is nie meer Afrikaans nie. Waarom dit nou op hulle afdwing?

Die Grondwetlike standpunt

  • SA is ’n Grondwetlike regstaat waarin die Grondwet bepaal dat Afrikaans ingevolge Artikel 6 ’n amptelike landstaal is.
  • Artikel 9 bepaal dat die staat nie regstreeks of onregstreeks teen iemand mag diskrimineer op grond van onder meer ras, taal of kultuur nie.
  • Artikel 29 bepaal dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal van sy keuse, met inbegrip van enkelmediuminstellings.
  • Afrikaanse studente het steeds ’n betekenisvolle aanwesigheid op US, die UP en die NWU kampusse (30% by die UP)
  • Toe Engelssprekende studente slegs 14% van die UP uitgemaak het, was Engelse klasse “ekonomies regverdigbaar”.
  • Die beginsel van ware demokrasie word tans totaal verskraal tot rasseverteenwoordiging.

 

Is onderhandeling nie die manier vorentoe nie?

Die Politieke standpunt

  • Die Staat se ideologie van rasdemografiese verteenwoordiging volgens die formule van 80-9-9-2 maak onderhandeling byna onmoontlik.
  • Talle taalbeleide van die verlede oor Afrikaans se plek aan die universiteite blyk vandag leë beloftes te wees.
  • 7 miljoen (en groeiend) mense in Suid-Afrika se huistaal is Afrikaans, dus is daar ’n werklike behoefte aan Afrikaanse tersiêre opleiding.
  • Die Staat steur hom egter nie daaraan nie en politieke wil om die behoefte aan te spreek, ontbreek.
  • Gemeenskapselfstandigheid, maar ook regsaksie om die Staat te dwing om sy verantwoordelikhede na te kom, sal vrugte afwerp.
  • Opbou van die eie en verset teen wat verkeerd is, is die pad vorentoe.

 

Hoekom moet universiteite opgesaal word met die bewaring van taal en kultuur, dit is tog kultuurorganisasies se werk?

Die Kultuur-standpunt

  • Kultuur het nog altyd ’n wesenlik rol gespeel by die totstandkoming van meeste suksesvolle universiteite in die moderne wêreld.
  • Opvoeding was nog altyd ’n onlosmaaklike deel van die universiteit se taak en ’n student is eers werklik as opgevoed (of gekultiveerd) beskou as hulle ’n veelheid van tale (ook en veral hul moedertale) kon bemeester.
  • Die kultivering van moedertale aan universiteite verteenwoordig ’n onontbeerlike deel van die akademiese lewe van universiteite.
  • Die oppervlakkige Engels aan ons universiteite verteenwoordig ’n ernstige verskraling van die opvoedingsideaal.
  • Die volle ontwikkeling van ons moedertale op universiteit kan help om dié ideaal weer sy regmatige plek aan ons universiteite te gee.

 

Moet alles moontlik nie gedoen word om Universiteite so toeganklik moontlik te maak sodat almal daar kan tuis voel nie?

Die standpunt oor Toegang

  • Daar bestaan geen enkele bewys dat Afrikaanse klasse aan “ons” universiteite teen enige anderstalige student diskrimineer nie.
  • Die breë universiteitsektor bestaan reeds uit byna 80% swart (“African”) studente.
  • Afrikaanse instellings se agteroorbuig ten gunste van anderstaliges word nou met diskriminasie téén hulle gelyk gestel.
  • Met Engels as enigste voertaal word die Afrikaanse student nou toegang tot Afrikaanse onderrig geweier en waar moet hy/sy nou tuis voel?
  • Dis nou die Afrikaanse student wat met sy taal en kultuur onwelkom en verwerp voel in sy eie land.

 

Ons kinders gaan in ’n hoofsaaklike Engelse omgewing werk. Moet hulle nie maar Engels van vroeg af goed onder die knie kry nie?

Die Akademiese standpunt

  • Doelbewuste afskaffing van Afrikaans as akademiese taal sal ’n eerste wees in die wêreldgeskiedenis.
  • Die logiese volgende stap sal wees om Afrikaans op Hoërskool en dan Laerskool af te skaf.
  • Meer as 350 Afrikaanse skole landwyd het in die laaste paar jaar toegemaak!
  • Afrikaans is slegs een van vier ander tale en die enigste in Afrika, wat in die afgelope eeu ‘n akademiese taal geword het!
  • Alle navorsing in verband met moedertaalonderrig is oorweldigend sterk ten gunste daarvan.
  • Om in ’n tweede taal onderrig te word, het ernstige implikasies ten opsigte van leerprobleme wat betrekking het op selfbeeld en leierskap.
  • Die afskeep van Afrikaans, is kortpad na die verdomlikingsproses.

 

Daar is mos steeds die opsie om Afrikaans by privaat instellings te laat voortleef, hoekom gebruik ons nie eerder dié opsie nie?

Die Privatisering-standpunt

  • Private universiteite is ’n goed bevestigde begripswêreldwyd.
  • Die aantal privaat universiteite in Afrika gaan die aantal staatsuniversiteite binne die volgende paar jare verbyneem.
  • Die kwaliteit van privaat instansies soos Akademia skeep ook glad nie af teen enige ander instansies nie.
  • Daar moet egter gewaak word daarteen om bestaande instansies van hoë kwaliteit prys te gee ten gunste van nuwe instansies.
  • Indien Afrikaans by publieke instansies soos universiteite of skole verdwyn of geprivatiseer word, verskraal die ruimte wat daar tans vir Afrikaans in Suid-Afrika bestaan nog verder.
  • Ondersteun privatisering, maar moenie opgee op huidige Afrikaanse instellings nie.

 

Hoekom moet Afrikaans bevoordeel word bo ander tale?

Die standpunt oor Bevoorregting

  • Dis ’n skreiende skande van ons regering dat Zulu-, Tswana- of Sotho-sprekers, nie hul tersiêre opleiding in hul moedertaal kan ontvang nie.
  • Die bewaring en bevordering van Afrikaans beteken glad nie dat dit ’n stryd is teen enige ander tale in Suid-Afrika nie.
  • Meeste Afrikaners wil op ’n regverdige wyse die geleentheid gegun word om op hul unieke manier, by te dra tot die SA samelewing en gemeenskap.
  • Afrikaners dring egter aan op die kulturele vryheid.
  • Die reg om kultureel vry te wees, kom geensins neer op bevoorregting nie.
  • Suid-Afrikaners behoort ons swak leiers aan te spreek om alle ander amptelike tale te ontwikkel tot hoëvlakmediums van onderrig.